Toe akteur en musikant, Erik Holm, twaalf jaar gelede sy nek gebreek en as parapleeg gelaat is, het hy gedink musiek, só belangrike deel van sy lewe, is vir altyd van hom ontneem. Tot bobaas kitaarmaker, Mervyn Davis, in sy lewe verskyn het en sy passie aan hom teruggee het met ‘n enig-in-sy-soort kitaar!
“Ek tjank al vir ‘n maand aanmekaar sedert ek die kitaar gekry het. Mense verstaan nie wat dit vir my beteken om weer my eie musiek te skryf en te maak nie…,” sê ‘n emosionele Erik terwyl hy die kitaar op sy skoot koester. “Hierdie is terapie en ek wil dit vir ander mense soos ek gee. As ek hierdie uitlaatklep en terapie in die hospitaal na my ongeluk gehad het, was ek binne drie jaar gesond!”
Erik is twaalf jaar gelede verlam na hy in ‘n dam geduik en sy nek gebreek het. “Jy weet, as mens as ‘n verlamde uit die hospitaal kom kry jy ‘n lysie van so tien goed wat jy as terapie kan doen. Daar is rolstoelrugby of basketbal… maar daai ouens is groot en sterk, en hulle sal my rol. Daar is niks vir ons ‘arty-farties’ se hart en siel nie. En al musiek wat jy kan speel is bekfluitjie en didgeridoo,” lag hy.
Hoewel hy met sy akteursloopbaan kon voortgaan en vir tien jaar in die bekende sepie, Binnelanders, en talle verhoogstukke gespeel het, was die musiek ‘n ontsettende gemis. “Voor die ongeluk het ek onder die verhoognaam, Seeleeu Leipoldt, my eie musiek geskryf en opgetree. Daarna was dit nie moontlik nie. Jy weet, ek het ‘n 10-punt lysie gemaak van goed wat ek graag weer sou wou doen. Loop is sewende op die lys. Musiek was vierde. En nou kan ek dit weer doen. Weet jy hoeveel hartseer en liefde ek die laaste ruk op hierdie wonderlike instrument uitgepomp het?”

“Mense verstaan nie wat dit vir my beteken om weer my eie musiek te skryf en te maak nie…”


En dit is alles te danke aan die Hartbeespoort-kitaarmaker, Mervyn Davis, wat die afgelope jaar ‘n spesiale kitaar vir Erik ontwerp en gebou het. Vir Mervyn, wat kitare vir internasionale musieklegendes soos Jonathan Butler en talle bekende Suid-Afrikaanse musikante maak, is hierdie ‘n nuwe mylpaal.
“Toe ek ‘n jaar gelede genader is oor die moontlikheid van so ‘n kitaar, was dit onmiddellik ‘n uitdaging. Ek moes eerstens bepaal watter bewegings Erik met sy hande kan maak. Uiteindelik het ons drie sterk bewegings geïdentifiseer en ek het die kitaar daarvolgens ontwerp,” sê Mervyn.

Mervyn Davis


“Vir my was dit ‘n kwessie van wat die probleem is en dan die stappe om by die oplossig uit te kom. Amper soos ‘n lang wiskundesom. Ek het nie geponder oor wat dit aan sy lewe gaan doen of dat ek met ‘n wonderlike ding besig was nie, die tegniese uitdagings het my kop besig gehou. Dit was sy reaksie toe hy die eerste note speel wat my skielike laat besef het watter verskil hierdie instrument aan sy lewe gaan maak. Om hom nou so geïnspireerd te sien… ek weet nou hierdie is die mees vervullende ding wat ek nog ooit gedoen het.”
Dié kitaar, wat Mervyn die Chord Slammer gedoop het, is die eerste van sy soort in die wêreld en is ontwerp om ast’ware die funksies van Erik se fingers te vervang. “Ek moes ‘n totale ander stemming uitwerk om moontlik te maak wat die kitaar kan doen. Ek wou ‘n instrument maak waar die limiet by die speler lê en nie die kitaar nie. Vir iemand met die volledige gebruik van sy hande, gaan dit net so moeilik of maklik wees om die kitaar te bemeester,” sê Mervyn.
“Ja, dit is van so aard dat mense nie sal kan sê: vir ‘n verlamde ou is dit goed nie…,” lag Erik.
“Dit was ‘n jaar van baie prototipes en intense ontwikkellingswerk en hoewel ek die kitaar aan hom oorhandig het, is ons nog nie klaar nie. Soos hy meer speel, sal ons bepaal waar verstellings of veranderings gemaak moet word.” Mervyn is reeds besig om aan die volgende prototipe te dink. “Een wat meer ‘vaartbelyn’ is.
“Dit was ‘n wonderlike reis, wat steeds voortgaan, saam met ‘n wonderlike en geduldige kliënt wat ‘n inspirasie is.”

“Dit was sy reaksie toe hy die eerste note speel…”


En vir Erik is dit ‘n nuwe reis na iets waarna sy hart gesmag het. Om weer sy eie musiek te kan maak. “As mens verlam is kry jy so baie raad van mense wat dit lief bedoel, en as iemand dié moontlikheid vir my gestuur het sou ek gedink het dis maar net nog ‘n foefie. Maar nou borrel ek oor. Ek kan nie ophou praat hieroor nie.”
Wat was sy reaksie toe hy vir die eerste keer weer die snare kon tokkel? “Dit was hectic. Ek het getjank, wat dink jy? As hierdie kitaar ‘n meisie was, was ons al ses maande in die moeilikheid. Ek het die laaste paar weke meer gehuil as in 12 jaar. My familie ook. En ek het my hande bloed gespeel. Behalwe vir die vreeslike dankbaarheid in my hart vir Mervyn, wil ek nou hierdie instrument bekend stel aan mense in dieselfde of soortgelyke situasie as ek. Mervyn het ‘n instrument vir ‘n hele bevolkingsgroep ontwikkel. Dit is groot!
“Ek beaam wat ‘n vriend van my, wat al 35 jaar verlam is, oor die kitaar gesê het: Dit is die naaste aan ‘n wonderwerk wat ek nog gesien het!”